Elana Alberts oppad na Portugal as Kaptein van die SA W60+ veterane tennisspan

Om as ‘n top veteraan tennisspeelster van Suid-Afrika die land internasionaal te gaan verteenwoordig, verg verseker goeie talent, uithouvermoë, konsentrasie, fiksheid en ure en ure op die tennisbaan. Hierdie titel is Elana Alberts van Middelburg se eer en is Grootfontein Landboukollege te same met die Middelburg gemeenskap werklik trots op haar.

Sedert sy 4 jaar oud is, wou Elana baie graag tennis speel. Nadat sy haar ma, Elsie Meyburgh mooi gevra het vir ‘n raket, het sy vir eers teen die muur begin slaan. Van daar was daar min wat haar kon keer en het sy spoedig ‘n ikoon op die tennisbaan geword. Tydens haar skoolloopbaan by Primêre skool Karel Theron asook by Hoërskool Middelburg was Elana permanent bo-aan die skool se ranglys. Sy het in St 6 gevorder tot by die nommer 1 tennisspeelster vir die skool en die posisie gehandhaaf tot die einde van haar skoolloopbaan!  Een van haar hoogtepunte in haar matriekjaar was toe Middies se meisies tennis span vir beide Oranje Meisiesskool en Kovsies se eerste spanne in Bloemfontein gaan wen het!

Tennis vloei dik in haar are en is dit nie maklik om haar op ‘n tennisbaan te daag nie, aangesien sy reeds sedert 1990 teen die top tennisspelers van Suid-Afrika meeding. 1991 het sy vir OP Platteland begin speel en vanaf 1995 speel Elana vir die OP veterane(seniors) tennisspan.

In 2015 het sy vir die eerste keer as deel van die Suid-Afrikaanse span na Frankryk gaan toer toe sy deel was van die Vroue 55+ tennisspan. Hierdie SA span het 7e tydens die toernooi waar 21 lande deelgeneem het, geëindig. 2016 & 2017 het  Elana ook vir die SA span gekwalifiseer om na Amerika te kon toer, maar haarself nie beskikbaar gestel nie.  Sy verkies om liewer in Europa op die rooi kleibane te gaan deelneem.

In 2018 reis sy saam met die Internasionale Klub van Suid-Afrika na Italië en Monaco waar sy Suid-Afrika se veterane span gaan verteenwoordig het. In Rome tydens die Italiaanse Ope, het sy die voorreg gehad om bekendes soos Novak Đoković , Naomi Osaka, Venus Williams en Juan Martín del Potro in lewende lywe te kon sien speel!

Vanjaar is Elana die nommer 3 tennisspeelster van die Suid-Afrikaanse W60+ veterane tennisspan wat vanaf 4 – 10 Augustus 2019 in Portugal aan die Wêreldkampioenskappe gaan meeding. Vanaf 11-16 Augustus ding sy ook mee in die Individuele van die Wêreldkampioenskappe in Portugal. Verder is sy ook die KAPTEIN van die vrouespan - Voorwaar ‘n titel waarop sy asook almal wat haar ken, super trots is!!