[Back]

Landboukollege Grootfontein bereik mylpaal

 

Die Landboukollege Grootfontein bereik tydens 2011 ‘n groot mylpaal deurdat die Kollege 100 jaar oud word. Die Kollege wat reeds in 1911 gestig is het reuse bydraes in die gebied van opleiding, navorsing en voorligting in die kleinveeproduksiegebiede van Suid-Afrika gemaak. Duisende suksesvolle boere en tegnici is op Grootfontein opgelei en baanbrekers navorsing in die gebied van kleinveeproduksie in ariede tot semi-ariede gebiede is hier gedoen.

 

Die Kollege beplan ‘n eeufeesjaar vol aktiwiteite wal alle betrokkenes in die kleinveebedryf insluit. Die Eeufeesprogram begin met die onthulling van ‘n gedenkteken op 7 Februarie 2011, presies 100 jaar nadat die Kollege sy deure vir die eerste keer oopgemaak het. Op 11 Februarie 2011 volg die amptelike feesvieringe met ‘n formele dinee waartydens ‘n kort oorsig oor die eeu gegee sal word, boodskappe van gelukwensing deur hoogwaardigheidsbekleers gemaak sal word, die eeufeesboek bekendgestel sal word, pryse oorhandig sal word en aangesit sal word vir ‘n vyfgang maal.

 

Die hoogtepunt van die jaar vind plaas van 30 Junie tot 2 Julie 2011 wanneer daar ‘n hele reeks van aktiwiteite gaan plaasvind. Die Grootfontein 100 Kleinvee Ekspo van Uitnemnedheid word aangebied en beloof ‘n grootste gebeurtenis te wees. Alle rolspelers in die kleinveebedryf naamlik alle kleinveerasse, bedryfsorganisasies, agri-besighede, voorsieners van produkte en relevante organisasies word uitgenooi om aan die lewendige en interaktiewe ekspo te kom deelneem. Die Ekspo val saam met die Eeufees reunie waartydens alle oudstudente gaan bymekaarkom. ‘n Produktefees word vir dieselfde tyd beplan waar alle vervaardigers en verspreiders van kleinveeverwante produkte uitgenooi word. Om alles te kroon vind die jaarlikse interkollege rugbyweek in dieslfde tyd plaas. Vir die akademies ge-oriënteerdes is daar die Kleinvee Wetenskaplike Simposium waar die nuutste navorsing op die gebied van kleinveeproduksie bespreek sal word.

 

Op 16 Junie 2011 beoog die Kollege om Jeugdag vieringe te hou deur die jeug van die omgewing vir die dag op Grootfontein bymekaar te bring vir ‘n dag van sport wat rugby, netbal, sokker, fietsry en draf insluit.

 

Op Erfenisdag 24 September 2011 word die kultuurhistoriese sy van Grootfontein uitgebeeld met verskeie lewendige demonstrasies van die vergange era. Dit sluit in seepkook, sweepvleg, outydse vuurwapens en ander uitbeeldings in. ‘n Staptog word beplan waartydens die geskiedkundige plekke op Grootfontein besoek gaan word en daar in die veld geslaap gaan word.

 

Intussen word daar verskeie nasionale kongresse en veilings deur die jaar op Grootfontein aangebied. Inderdaad is daar iets vir elkeen. Hierdie grootste jaar beloof ‘n groot ekonomiese inspuiting vir die dorp in te hou.

 

Enige navrae kan aan Elana Kitching gerig word wie dit na die relevante persoon sal verwys. Elana Kitching: 049-802 6724, ElanaK@daff.gov.za

 

[Back]